Tuesday 29 December 2015

Nog antwoorde

Vir dié van u wat dalk gewonder het oor die motivering agter sommige van ons besluite rakende die infasering van e-leer:

Worcester Gimnasium se infaseringsmetode is in baie opsigte uniek. In die Wes-Kaap is ons een van die eerste nie-privaatskole wat die gebruik van e-toestelle begin infaseer. Met ons beplanning het ons te staan gekom voor 'n paar harde werklikhede:

  • 'n Groot deel van ons ouergemeenskap is glad nie welgesteld nie en gaan sukkel om geskikte toestelle te bekostig. Ons kan ook nie toelaat dat daar op grond van finansiële omstandighede teen leerders gediskrimineer word nie.
  • Ons ouers is nie daaraan gewoond om vir skoolhandboeke te betaal nie. Baie kry ook volgens die amptelike departementele glyskale afslag op skoolgelde.
As gevolg hiervan moes ons 'n unieke strategie bedink om wel die voordeel van e-handboeke te begin gebruik:
  1. Deelname is aanvanklik vrywillig. Ons glo dat genoeg ouers die voordeel van die tegnologie sal insien om die infasering die moeite werd te maak vir die skool. Terselfdertyd mag ons nie dié leerders wie se ouers dit nie kan bekostig nie, benadeel nie. Daarom gaan ons voorlopig voort met die voorsiening van gewone handboeke aan die leerders wat dit so verkies. (Ons sal waarskynlik ook nie voor Februarie klaar wees met die tegniese en administratiewe voorbereidings nie, daarom gaan alle leerders aanvanklik uitgereik word met gewone handboeke.)
  2. Ons het besluit om 'n BYOD- (bring your own device) benadering te volg. As gevolg van die ekonomiese omgewing waarin ons moet werk, kan ons ongelukkig nie op een tipe toestel standardiseer nie. Dit sou dinge beslis makliker gemaak het, maar is onprakties in ons omstandighede. Ons glo ook dat dit in 'n hoërskool nie die onderwyser se taak is om die leerders met hulle toestelle te help nie. Die leerders moet self verantwoordelikheid aanvaar vir hulle toestelle en moet leer om dit te gebruik. (Hulle gaan in elk geval baie makliker daarby aanpas as die onderwysers!) Om die infasering makliker te maak, gaan alle betrokkenes basiese opleiding ontvang oor hoe om met die programme te werk en daar sal ondersteuning beskikbaar wees vir dié wat dit nodig het.
  3. Ons het, na deeglike oorweging, besluit om al die grade dadelik te betrek en om nie per graad in te faseer nie. Ons voel nie dat hierdie 'n rewolusionêre verandering aan onderwys is nie, bloot net nog 'n stap vorentoe met nuwe hulpmiddels, en ons wou nie die geleentheid vir sekere grade ontneem nie. Ons infasering is dus nie per graad nie, maar volgens vrywillige deelname. (Met ons benadering kry ons ook dadelik al ons onderwysers betrokke, iets wat andersins dalk meer tyd sou neem!)
Ons glo dat hierdie oorskakeling vir die leerders maklik en natuurlik gaan kom. Hulle word groot met selfone en die tablette werk eintlik maar net soos selfone, met moontlik 'n nuwe app of twee om aan gewoond te raak. 

Wat die onderwysers aanbetref, weet ons ook dat party makliker by die nuwe tegnologie gaan aanpas, terwyl ander langer gaan neem om dit optimaal te gebruik. Gelukkig is al ons onderwysers reeds gemaklik met rekenaars en dataprojektors en is hulle opgewonde oor die nuwe hulpmiddels wat nou tot hulle beskikking is.

Ons weet dat ons 'n paar unieke besluite moes neem, maar ons glo dat die roete wat ons gaan volg, die beste is vir ons skool en al ons leerders!

No comments:

Post a Comment